Noag se Ark Bybel Lessie
- Eljoh Hartzer, MTh

- May 15
- 3 min read
Noag se Ark is nie net 'n Bybel lessie oor God se wraak, mens se slim vernuf, of die Groot Vloed nie. Hierdie Noag se Ark Bybel lessie leer vir kinders die waarheid van naby God leef - dit maak dit prakties en toepasbaar op hulle daaglikse lewens as dissipels van Jesus. Die dele van die program sluit in: 'n naam speletjie, memoriseer vers, liedjie, lessie, V&A, en gebed.
Mag jy spasie hier vind om tot stilstand te kom, te reflekteer, en naby Hom te bly.

Ysbreker
Alle kinders kry ‘n maatjie om 3-been resies mee te doen. As julle iets het,🧣 bind hulle bene vas, anders moet hulle maar net inhaak so saam-saam beweeg. Die idee is dat hulle soos die diere na die Ark toe, 2-vir-2, stap of hardloop.
Liedjies
Sing: Noag het ‘n Ark gebou
Luister & Dans: God Loves Me - Orange Kids Music 🔗
Bybel-onthou-vers
Johannes 3:16
(Vorm met hande: J 3 1 6)
“God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.”
(Vorm met hande: 👆🫵♥️🎁🙏🙈🌱)
Noag se Ark Bybel lessie
Nadat die Skepper alles gemaak het, het die mense wat Sy vriende was teen Hom gedraai. Adam & Eva het die verbode vrugte geëet en teen God se wil gekies. Daarna was daar 10 generasies, soos jou oupa-grootjie... Vir al daardie jare was die mense vêr van God. ☹️
wys ‘n fisiese Bybel - Genesis vertel vir ons hoe God gekyk het na die mense wat hulle rug op Hom gedraai het. Hulle was baie boos (‘evil’) en het allerhande verkeerde dinge gedoen.
Behalwe vir 1 persoon. Enog - Kan jy dit sê? “E-nog”. Ons lees in die Bybel dat Enog naby aan God gelewe het en toe begin dinge verander! As jy naby God lewe sal daar groot verandering kom in jou lewe ook.
TOE in Genesis 6 vers 9 lees ons van Enog se agter-kleinkind:
“Noag was ’n opregte man,🧑💼die enigste onberispelike (goeie👍) persoon in daardie tyd. Hy het God☝️ se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad.🫂”
God stuur toe ‘n Groot Vloed om al die lelike dinge wat die mense gedoen het uit te vee en oor te begin. Maar vir Noag het Hy gespaar. God het vir Noag geleer hoe om ‘n reuse boot⛴️ - die Ark - te bou. Al die diere kom toe 2-vir-2 na die Ark toe. 🦒🦒 En toe val die groot reën!
Omdat Noag naby God gelewe het, het God hom en sy familie gered. Na die vloed het God ‘n belofte gemaak. Hy het Sy reënboog in die lug gehang 🌈 en belowe dat daar nooit weer so ‘n vloed sal wees nie.
Vrae & Antwoorde
V: Hoekom het God vir Noag en sy familie gered?
A: Noag het naby God gelewe en God se wil gedoen.
V: Wat was Noag se oupa-grootjie se naam wat naby God gelewe het?
A: Enog.
V: Wat beteken die reënboog?
A: Dit is God se belofte (Genesis 9:8-17).
📖 Jy kan vandag se storie by die huis gaan lees in…Die Bybel boek met die naam Genesis, van hoofstuk 6 af.
Gebed
Dankie Skepper-God
Dat U genade wys aan díe wat U liefhet soos Enog en Noag.
Help ons om ook naby aan U te bly.
Dit is U hart se begeerte om naby ons te wees
dis ook hoekom U vir Jesus gestuur het.
Dankie vir U liefde.
Amen.
Vine Creative Studio het 'n groeiende kolleksie van wat ek noem 'ontmoetings materiaal' - hulpbronne wat harte aan Jesus verbind. Jy is welkom om my verniet inkleurprent af te laai oor die wonderwerk van die Broodjies & die Vissies.
P.S. As jy hierdie lessie geniet het en graag wil kontak behou, nooi ek jou graag om by my nuusbrief aan te sluit deur om jou e-pos adres hier onder te los.




Comments