Werk saam met ouers in Kinderbediening
- Eljoh Hartzer, MTh

- Jul 3
- 6 min read
Hoe kan dit lyk as jy sáám met ouers werk in jou benadering tot Kinderbediening?
Dr. Lawson Murray het gesê: “Die primêre ouerskapstaak is om kinders te help om uitsluitlik aan Jesus toegewy te wees en ten volle toegewyd te leef as burgers van Sy koninkryk.” Dit is goeie nuus vir elke kinderbedieningsleier en Sondagskoolhelper. Hoekom?
Want jy en die ouers het presies dieselfde doel voor oë!
My benadering tot kinderbediening het radikaal verander toe ek besef het: ouers is nie net die mense wat hul kinders by die deur aflaai nie. Hulle is die hartevormers by die huis. Wanneer kinderbedieningsleiers en ouers saamstap, gaan die impak véél dieper.
Daar is twee sleutel faktore wat ons hier sien:
Soos wat ek geskryf het in my Praktiese Teologie Tesis: "Party mense wonder of die kerk nog enigstents 'n betekenisvolle bydrae kan maak tot hedendaagse uitdagings, veral vir jongmense. Dit word internasionaal geglo dat mense geloof in die kerk verloor het." So dalk kan alles nie by die kerk stop nie?
In 'n tipiese Westerse en moderne uitkyk, sien jeugwerkers dikwels elke kind as 'n individu wat op hulle eie voor jou staan, in plaas van dat hulle deel vorm van 'n familie. Dink daaraan: Iemand het hulle kerk toe gebring, iemand bid saam met hulle by die huis, iemand lees die Bybel vir hulle...
Ons kan dit sien soos 'n tuin:
By die kerk plant ons sade (stories, Skrif, liedjies, en klein heilige oomblikke) in die harte van die kinders wat ons programme bywoon. Maar dit is by die huis waar die saadjies water, sonlig, en baie geduld ontvang.

Ons kan saam met die ouers saai, en die Here vertrou vir die groei.
In hierdie artikel deel ek ses praktiese riglyne vir kinderbedieningsleiers wat wil leer hoe om met ouers saam te werk – eerder as om teen hulle te werk:
Ons vervang nie die gesin nie
'n Herfokus op verhouding en kommunikasie
Moedig aan sonder om te oorweldig
Wees beskikbaar en toeganklik
Jy plant, hulle water, God laat groei
Hoe sal dit lyk as ons sáám met ouers werk?

Ons vervang nie die gesin nie
Ons het die kinders vir een uur per week – as die diens nie oor tyd loop nie! Ouers het hulle vir die res van die tyd. Die doel van kinderbediening is dus nie om die primêre geestelike invloed in 'n kind se lewe te wees nie, maar om ouers te ondersteun, toe te rus en te bemoedig. Hoewel betrokkenheid by ‘n groepie by kerk die kind se identiteit positief kan beïnvloed (Stavrova & Luhmann), speel ouers die belangrikste rol in geloofsvorming (Van Niekerk & Breed).
Jy moet besef dat wat jy doen vir 'n uur op 'n Sondag oggend is belangrik, maar dis net 'n druppel in die emmer. Hoe sou jou perspektief verbreed as jy die ouers kon sien as die kind se hoof dissipel-makers en dat JY volg op HULLE? Miskien sou jy hulle opinies vra wanneer jy 'n nuwe kurrikulum oorweeg? Dalk sou jy fokus op hoe jy hulle tuiste-dissipelskap kan aanvul? In 'n Christelike uitkyk neem die Jeugwerker 'n nederige posisie aan en bedien die familie.
Bou Konneksie en Kommunikasie
Oorweeg 'n ander perspektief waar jou hoof taak nie is om die kinders te leer oor Jesus op jou eie klein eiland nie, maar om eerder konneksie en kommunikasie met die families te bou. Maak dit prakties: Hou die ouers "in die loop" met eenvoudige nuus. Wat het hulle kinders vandag geleer? Op watter Bybelvers fokus julle hierdie maand? Is daar dalk 'n worship liedjie wat hulle by die huis kan speel? Dalk kan hulle die memoriseer-vers op die yskas sit?
Jy hoef dit nie te oordink nie. Selfs 'n vinnige gesprek na die klas of 'n gedrukte uitdeelstuk kan baie beteken. Wanneer ouers weet wat gebeur is hulle meer geneig om deel te neem en ook jou hand te vat. 'n Behulpsame idee: Skep 'n ouers groep waar jy boodskappe stuur met 'n weeklikse 'update' oor wat hulle geleer het EN hoe die ouers dit verder kan neem. Die doel hiermee is om oop kaarte te speel oor wat gebeur agter die toe deure van die kinderbediening sodat jy die omgewing skep vir die ouers om met jou te gesels as hulle sou wou.
Bemoedig, moenie belas nie
Noudat dit als bespreek is moet jy ook in gedagte hou dat sommige ouers dalk nuut is tot geloof. Party kan skaars deur die dag kom. Gee genade. Deel bemoediging. Moenie aanneem dat hulle dit als regkry nie. Sommige families is baie dankbaar vir die werk wat jy doen op 'n Sondag en ander sien dit ongelukkig net as babysitting. Sommige ouers voel so oorweldig met die lewe dat hulle glad nie eers aan kinderkerk kan dink nie!
Gee vir hulle maklike, klein maniere om geloof te versterk by die huis- vrae om te vra by die etenstafel, 'n kort gebed om te doen voor slaaptyd, 'n musiek playlist om te speel in die kar. Jy sit nie druk op hulle of gee vir die ouers huiswerk nie, hoor! Jy kom stap langs hulle met liefde.
Wees Beskikbaar en Toeganklik
Partykeer gebeur die mees kragtige bediening in die gange. 'n Ouer mag dalk vra vir gebed. Of hulle maak dalk oop oor iets moeilik. Wees in die oomblik. Wees oop. Jy mag dalk die eerste persoon wees vir wie hulle vertrou met hulle kind se storie.
Ek weet van eerstehandse ervaring hoe dit is om 'n kinderbediening te lei en soos 'n af-kop hoender rond te hardloop van een ding na die ander, maar as die leier van die bediening, moet jy teenwoordig wees. Party dinge kan jy nog deligeer, maar om verhoudings te bou met die ouers is nie een van hulle nie. Die Sondagskool leier moet voor en na die diens, wanneer mense koffie drink en gesels, dit hulle prioriteit maak om by ouers uit te kom.

Ons Plant, hulle gee water, God groei
In 1 Korintiërs 3:6, skryf Paulus, “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het." Dit is ook ons uitkyk. Ons plant. Ons bemoedig dat die saadjies water kry. Ons bid. En ons vertrou die Here om die diep, geheime werk in die kinders se harte te doen.
Leiers van Sondagskool moet hierdie waarheid aanvaar: Dit is heeltemal moontlik vir 'n kind se geloofsvorming om heeltemal buite die kerk te gebeur (Avenant, Nel & Jordaan). Ouers speel nie net een rol nie, hulle speel die belangrikste een.
Werk saam met ouers
"Geloofsvorming is eers gedeel, dan individueel" - C. Dykstra
Om met ouers saam te werk is nie net hierdie ontasbare ding of slegs 'n goeie idee nie. Dit is ook 'n baie praktiese oplossing vir baie van die probleme wat jy tans het in jou Sondagskool. Kom ons oorweeg party van die mees algemene uitdagings wat leiers van kinderbediening beperk en hoe jy eintlik ouers se hulp kan inroep:
Begroting beperkinge: Vra ouers om ou skryfbehoeftes, boeke, kombersies, en speelgoed vir die bediening te skenk.
Te min helpers: Nooi ouers om een keer 'n maand in te kom om te sien wat jy doen en om op dieselfde bladsy te kom oor hulle kind se geloofsvorming - in die proses kry jy sommer ekstra hulp ook.
Gedrags-uitdagings: Begin 'n oop en eerlike gesprek met ouers oor hulle kind se behoeftes of uitdagings. Wanneer ouers en leiers saamwerk aan 'n dissipline strategie of emosionele bystand, voel kinders meer veilig en asof iemand hulle probeer verstaan.
Dissipelskap wat aanhou: Sondagskool leiers vertel my gereeld dat hulle nooit voel asof daar genoeg tyd is op 'n Sondag oggend om regtig diep met die kinders te gaan nie. Bemoedig die ouers om die week se lessie by die huis op te volg met 'n eenvoudige aktiwiteit of besprekingspunt. Sodoende kan jy herhaal wat die kind geleer het en die ouers laat voel asof hulle deel is en bemagtig is.
Hier's 'n voorbeeld: As deel van my Kinderbediening Kurrikulum Living in the Kingdom of Heaven, bied ek 'n Kindle e-Book vir ouers om die boodskap huistoe te neem. Toe ek hierdie kurrikulum met kinders by my kerk gedoen het, het hulle baie opgewonde geraak oor om die storie te kan huistoe vat en om dit wat hulle geleer het te kan deel met hulle gesinne. Die ouers was mal daaroor!

Reflekteer:
Ons bedien nie net kinders nie. Ons bedien families.
Wanneer jy ouers se hande vat in hoe jy Sondag Skool doen is dit asof jy die mure laat sak en als toeganklik maak vir almal. En wanneer ons dit kan grekry word die kerk 'n plek wat soos huis voel - vir almal.
Wat van jou? Is daar enige maniere wat jy gevind het wat werk om ouers in te sluit in jou Sondagskool plan? Is hierdie 'n nuwe idee vir jou? Ek sal graag saam met jou bid in die 'comment section', vanaf iemand wat weet hoe dit voel in die storms van kinderbediening met die uitdaging van konneksie met ouers.




Comments